Juf Marina Gillmer (Steenkamp) het haar laerskoolloopbaan begin by Welkom Volkskool in 1967.

Sy eindig haar laerskoolloopbaan as hoofdogter van die skool. Haar vader was die Adjunkhoof en baie van die bome nou nog te sien op die skool terrein is nog destyds deur hom geplant.

Gedurende haar laerskoolloopbaan het sy uitgeblink in Akademie, Netbal, Voortrekkers asook in Atletiek en het sy drie jaar in ‘n ry Vrystaat rekords laat spat!

Juf Marina, soos almal haar ken, was in Welkom Gimnasium Hoërskool, waar sy weereens uitgeblink het in sport en akademie. Sy was die Drilsersant van die skool se Skoudrilpeleton, beste atleet en ook die hoofdogter van dié skool.

Sy verkry haar Onderwysdiploma aan Bloemfontein Onderwyskollege en begin in Januarie 1982 by Welkom Volkskool as Onderwyseres. Sy het egter nie haar studies hier gestaak nie en spog ook met grade in Onderwys Bestuur, Meestersgraad in Funksionele Terapie en selfs ‘n Meestersgraad in Bybelse Berading.

Sy het diep spore in Volkie-land getrap. Sy was die vakhoof van Afrikaans, maar het ook gedien as vakhoof van vakke soos Verrykingsonderwys, Jeugleiding, Inligtingsvaardighede, Taal Kommunikasie, Geletterheid, Lewensoriëntering en Ekonomiese Bestuur.

Sy was ook die Bibliotekaresse, hoof van Redenaars en hoof van Skaak. In sport het sy ook haar kant gebring en jare lank sport afgerig soos landloop, netbal,atletiek en tot nou nog die Eerste- en Tweede spanne Tennis dogters.

As Onderwyseres het sy op talle komitees gedien en was sy betrokke by talle kunstefeeste, publikasies en media dekkings. Sy het talle leerlinge geassisteer en vergesel na expo’s en saam met hulle uitstekende suksesse behaal.

Saam met haar leerlinge het sy ook aan talle omgewingsbewaring projekte deelgeneem en talle toekennings hiervoor ontvang. Juf Marina het altyd gemeenskapbetrokkenheid aangemoedig by leerlinge en was self ywerig betrokke in die proses om Welkom as ‘n “stad” te verklaar. Vir haar rol in die gemeenskap het sy talle toekennings ontvang. Selfs as Spreker is Juf Marina ‘n bekende gesig en haar insig en wysheid het Welkom Volkskool al groot eer besorg.

Hier volg ‘n paar van haar loopbaan hoogtepunte waarop sy nederig trots is:

• Wenner van die “Nasionale Onderwys Ad Educandum” Toekenning.
• Wenner van die “Nasionale Hou Suid-Afrika Skoon” Toekenning.
• Wenner van die” Nasionale Conserwa” Toekenning.
• Wenner van die” Meriete Kultuurtoekenning” van die Direktoraat Onderwys en Kultuur, Vrystaat.
• Wenner van” Education Africa Presidensiële en Premiers Onderwys” Toekenning.
• Wenner van “Welkomstreek Bewarea” Toekenning.
• Brons Ster Toekenning vir UItmuntende Prestasie as Onderwyseres.
• “Ere Natuurbewaarder” Toekenning vir volgehoue navorsing en projekte met leerlinge.
• Wenner van die “Teachers Award” vir “Best Teacher” Senior Primêr. (2000)
• Wenner van die “Teachers Award – Life Long” (2006)
• Ontvang Departementspartikuliere Toekenning KS –Opvoeders.
• Ontvang Vrystaat Onderwysdepartement Meriete Toekenning.
• Wenner van “Opvoeder van die Jaar” (2000) (Welkom distrik).
• Genomineer vir ATKV se “Vroue van die Jaar 1999”.

Juf Marina se naam kom dan vir redes wat vanself spreek op Volkies se Legende-Muur! Juf Marina is ‘n Volkie in murg en been en sal altyd deel wees van ons! Ons is baie trots op haar en baie hartseer dat sy aftree, maar ons gun haar die “vryheid”. Ons ken haar goed genoeg om te weet dat sy glad nie nou gaan “rus” nie! Want Volkies het mos GUTS! GUTS! GUTS!

Juf Marina se gunsteling teks is : Fil.4:13 Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.

Haar gunsteling slagspreuk is “Soli Deo Gloria” wat Latyns is vir : Alle Eer aan God Alleen!

Volkies wens Juf Marina en haar gade ‘n voorspoedige toekoms vol liefde en geluk toe.

Juf Marina los ‘n groot leemte in ons skool en harte!