Die Hoërskool Sentraal se hoofmeisie vir volgende jaar, Maryna van Wyk (foto bo) het Saterdag by ‘n groot uitnodigingsatletiekbyeenkoms vir hoërskole in Stellenbosch met twee mooi oorwinnings vorendag gekom.

Sentraal is die enigste Vrystaatse hoërskool wat kragte gemeet het by dié byeenkoms wat jaarliks wemel van puik atletiekskole van die Weskaap. 31 hoërskole het mekaar die stryd aangesê en Sentraal het sy man deeglik gestaan deur ses goue, vyf silwer en drie bronsmedaljes in te ryg.

Van Wyk het in die afdeling vir meisies 17-jaar eers die oorhand gehad in die 100 m-hekkies in ‘n tyd van 15,72. Haar Tralie-spanmaat, Leandri van Rensburg het gesorg dat hulle goud én silwer buit in dié nommer deur tweede in 16,65 oor die eindstreep te nael. Kayla Webster (Milnerton, 17,06) was derde.

In die 200 m was Van Wyk in ‘n rillerstryd betrokke met die kookwater naeloper van die Hoër Meisieskool Bloemhof (Stellenbosch), Luca Hartman. Hartman (26,56) het egter net-net nie genoeg petrol in die tenk gehad om die Van Wyk (26,55) te troef nie.

‘n Fotobeslissing het dié twee spoedvrate met slegs een honderdste van ‘n sekonde geskei. Tussen al die opwinding moes Rozanne Compion (Hoërskool Belville, 28,18) vanuit die derdeplek toekyk hoe Van Wyk en Hartman in die niet verdwyn.

Die res van Sentraal se goue medaljes het gekom in paalspringnommers. Sentraal oorheers telkens paalspringnommers by byeenkomste in Bloemfontein, maar mens het sterker mededinging in Stellenbosch verwag, want die Weskaap spog ook met puik paalspringers wat hulle nog op die hoërskoolbanke bevind. Daar het egter van dié verwagte mededinging jittels gekom.

In die onderskeidelike afdelings vir meisies 15- en 17-jaar het Welena van der Merwe (2,60) en Esli Lamley (3,40) mooi eersteplekke behaal.

Dit is veral Lamley se oorwinning wat indrukwekkend is. Sy het vroeër vanjaar die Suid-Afrikaanse skoletitel met ‘n sprong van 3:30 m beklink en in Stellenbosch tien sentimeter hoër oor die dwarslat geseil.

Sou sy egter in Stellenbosch dieselfde hoogte (3,30) as by die genoemde nasionale kampioenskap gespring het, het sy gelyk getrek met die silwermedaljewenner in Stellenbosch. Christy Nel (Hoerskool La Rochelle, 3,30) was tweede, maar Lamley het vir seker oor meer van die bekende sportterme, BMT (Big Match Temperament) beskik en sodoende oorwinning gesmaak.

Christiaan Duvenhage (seuns 14-jaar – 3,40) en Henru Potgieter (seuns 16-jaar – 3,90) het die gouemedalje-oes vir Sentraal voltooi met goeie oorwinning – óók in die paalspring.