Marlize Potgieter, oudleerling van Tjokkies en Hoërskool  Jim Fouché in Bloemfontein is onlangs aangewys as Mev Bloemfontein. Marlize is in Bloemfontein gebore, het hier grootgeword en bly nog al die jare hier. Marlize en Frikkie, het drie geskenkies ontvang, Nicole (16), Juwen (14) en Lize (12). Sy is mede-eienaar van UTD HR Consulting wat spesialiseer in organisasie herstruktuering en posbeskrywings.

Marlize is tans ‘n trotse Tjokkie- en JF mamma. Haar gesin en familie is vir haar uiters belangrik  en sy streef daarna om ‘n goeie balans te handhaaf tussen werk en gesinstyd. “Wanneer alles om jou begin inmekaar tuimel is dit tog jou mense wat altyd daar is om jou liefde en ondersteuning te bied”.

Marlize sêdat sy probeer om eerlik, opreg en hardwerkend te wees. “My geloof is baie belangrik in my lewe. Ek luister graag en is altyd bereid om te help waar ek kan”.

Swaarkry en onregverdigheid is vir haar baie moeilik om te verwerk. Haar vriende beskryf haar as positief, sag en betroubaar, iemand wat altyd help en lekker kan lag en gesels.