Die Hoër Meisieskool Oranje se matriekklas van 2019 het vroeg in die jaar rede vir groot feesvieringe verskaf met die puik akademiese uitslae wat hulle opgelewer het.

Behalwe die slaagsyfer van 100% en universiteitstoelating van 91,6%, was dit die toppresteerders wat provinsiaal uitgestyg het. Nege leerders, die meeste in die provinsie, het in die top 50 in die Vrystaat geëindig. Dit is ook die meeste ooit deur die skool.

Daarbenewens het vyf Oranjeniete agt onderskeidings behaal wat ook meer as enige ander Vrystaatse skool is.

Oranje is aangewys as een van die top 10-skole in die provinsie vir wiskunde en fisiese wetenskap.

Gabriela von Eschwege (93,7% en 8 onderskeidings) is Oranje se Dux-leerder en is in die top 5 in die provinsie. Sy en Elize Hoffman het die seldsame prestasie van 100% in Duits gelewer.

Foto: Die nege oudleerders aan die Hoër Meisieskool Oranje wat in die top 50 in die Vrystaat geëindig het, is van links, voor: Benita Schoonwinkel, Elize Hoffman, Mandie de Wet en Monique Davidson; agter: Gabriela von Eschwege (dux-leerder), Talitha Heyns, Marizanne Strydom, Lize de Wet en Mia Pretorius.