Welkom Volkskool kondig met trots en opwinding aan dat Mnr Derick van der Vyver aangestel is as skoolhoof, deur die Departement van Onderwys.

Meneer Derick het reeds die afgelope 18 maande waargeneem as skoolhoof by Volkies en is sedert 1998 verbonde aan Volkskool.

Derick is ‘n passievolle Wiskunde onderwyser wat glo dat die onderwys steeds ‘n roeping is, wat lojaliteit en toewyding vereis. Hy glo dat ‘n onderwyser se taak nie bloot die oordra van inligting aan kinders is nie, maar die vorming van karakter, neerlegging van waardes en die impak wat jy as onderwyser op hul lewens het.

Atletiek bruis is sy are en hy is alom bekend vir sy suksesse hierin, asook sy wyse van afrigting. Hy tree op as afrigter by verskeie SA – byeenkomste en word deur die Sentrum van Uitnemendheid aangewys as ‘n leermeester vir ander afrigters. Reeds 50 Provinsiale atlete is deur hom opgelewer.

Meneer Derick is ‘n besonderse mensekenner en sy persoonlike waardes maak van hom die perfekte skoolhoof vir ‘n waardegedrewe skool soos Welkom Volkskool. Die belang van die kinders kom altyd eerste en is hy bekend vir sy oop-deur beleid teenoor sy onderwys-span, ouers en kinders, by die skool.

Veels geluk Meneer Derick! Ons staan bankvas agter jou en wens jou alle sterkte toe vir hierdie volgende hoofstuk in jou loopbaan.