Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein is bekend daarvoor dat talle oud-leerders, na skool, hul merk in die lewe gemaak het!

Schools That Rock berig kortliks oor ‘n aantal suksesvolle oud-leerders van skole op ons Facebook en Webtuiste.

Ons gesels kortliks oor Leon Schuster. Leon is in Vereeniging gebore en het in Bloemfontein grootgeword. Sy skoolloopbaan het by Laerskool Wilgehof – nou Primêre Skool Jim Fouché – begin. Sy hoërskoolloopbaan het hy aan Hoërskool Jim Fouché voltooi. Na skool het hy onderwys aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en ‘n BA-graad met Afrikaans en Engels as hoofvakke en later ‘n Hoër Onderwysdiploma verwerf. Hy het vir die Universiteit van die Vrystaat se eerstespan rugby gespeel. Hy het ook as haker vir die Vrystaatse Rugbyspan gespeel en is steeds ‘n groot ondersteuner van die Vrystaatse Cheetahs. Hy was toe ‘n onderwyser by Hoërskool Jim Fouché vir twee jaar.

Leon het in 1975 by die SAUK aangesluit, waar hy veral vir sy radioprogram Die Vrypostige Mikrofoon onthou word deur talle mense met sy vlymskerp poetse uit te vang. Dit het die fondament vir sy poetse in sy meer as 18 rolprente gelê.