Fredoline Mantjies, (op die foto bo), ’n gr. 10-leerder aan die Hoër Meisieskool Oranje, is Saterdagaand in Indië as Mej. Tiener Verenigde Nasies gekroon. Sy het tien dae in dié land deurgebring waar vooraf-beoordeling gedoen is en die finaliste by verskeie aktiwiteite betrokke was.

Volgens Fredoline (16) gaan sy oor die volgende jaar openbare optredes en by haar projek van keuse – kanker – betrokke wees.

“Ek het kanker gekies, want dis ’n siekte wat mense oor die wêreld heen raak. Ek is by die opvoeding en ondersteuning van kanker betrokke en wil ‘n stem wees om die boodskap oor te dra dat dit nie ’n doodsvonnis is nie,” sê Fredoline.