Die jaarlikse sport-derby tussen twee van die beste sportskole in Suid-Afrika, Grey-kollege (Bloemfontein) en Paul Roos Gimnasium het dié naweek op Paul Roos se tuisvelde in Stellenbosch plaasgevind.

Nie minder nie as 24 rugbywedstryde is tussen dié legendariese skole wat saam reeds hordes Springbok-rugbyspelers opgelewer het, se onderskeie spanne en ouderdomsgroepe gespeel.

Die grote was die wedtryd tussen Grey en Paul Roos se eerstespanne en hier het Paul Roos die septer geswaai met 19 – 12 (sien berig elders op webtuiste vir die volledige verslag oor dié wedstryd).

In geheel gesien was Paul Roos baas op die rugbyveld deur 16 van die 24 wedsryde wat beslis is te wen. Grey het agt in sy guns beklink.

Die lig aan die anderkant van die Grey-rugby toekomstonnel is dat sy o.16 (A-span) sy eweknie van Paul Roos gerieflik met 31 – 12 pak gegee het.

Gepraat van die toekoms – Paul Roos het die o.14 (A) wedstryd met 34 – 22 gewen en ook oorwinning gesmaak in die o.15 (A) stryd. Maar, laasgenoemde was naelbyt en die telbord het teen eindfluitjietyd gaan stop op 10 – 6.

Grey se diepte het die deurslag gegee in die wedstryd tussen die tweedespanne en die Bloemfonteiners het hier geseëvier met 13 – 5.

Paul Roos, wat ook bekend is vir sy puik hokkie, het dié naam gestand gedoen deur Grey se eerstes met 3 – 1 te klop. Inteendeel, Die manne van Kaapland het al vyf die o.19-wedstryde (1ste, 2de, 3de. 4de en 5de spanne) met die grootste gerief beklink.

Dit was egter in die o.14(A) en o.16(A) wedstryde waar Grey sy man gestaan het en ‘n gelykoptelling (1 elk) afgedwing het in die eersgenoemde wedstryd en die Stelleboschers in die o.16(A) wedstryd met 3 – 2 geklop het.

Grey het nege hokkiewedstryde verloor, drie gewen en een gelykop gespeel.

Die tennis was ‘n perd van ‘n ander kleur en Grey beskik vanjaar waarskynlik oor een van sy beste tennisspanne (indien nie dié beste nie) sedert die ontstaan van die skool.

Grey het die A-span wedstryde met 7 – 2 gewen, en Paul Roos se tennisspanne word nie maklik getroef nie. Die Bloemfonteiners het slegs die B-span-wedstryde verloor, en dit was naelskraap (4 – 5). Die res van die wedstryde het almal in Grey se guns geswaai.

Die bergfietswedrenne was iets waaroor nog lank gepraat gaan word. Grey en Paul Roos beskik oor van die voorste jaers in die land en die algehele telling was gelykop (56 – 56).

Grey se eerste gholfspan het Paul Roos geklop (6 – 3), maar die tweedes, derdes, vierdes en vyfdespanne moes die knie buig voor Paul Roos.

In die debatkompetisies het albei skole hulle man gestaan en daar kon nie onderskeid getref word nie. Die junior en senior debatspanne het gelykop geeindig.

FOTO BO: Francois Annandale (Grey) het Saterdag in Stellenbosch met sy oorwinning in die seuns o.16 bergfietswedren teen Paul Roos Gimnasium bygedra daartoe dat dié twee skole gelykop geeindig het in die bergfietskompetisie.