Voor vlnr: Mehmood Khan, Victor Nel (o/kaptein), Presley Lesoro, Rowén Scholtz en Henro Claasen

Agter vlnr: Mnr Connie Claassen (afrigter), Lorenzo Spyer, Jack Lyon, Dian Labuschagne (kaptein), Mnr Gys Coetzee (skoolhoof), HJ Smit, Jan-Dirk Heyns, Divan Claassen, Lyton Lyon, Mnr Jakkals Scheepers (afrigter) en Mnr Corné van der Merwe (afrigter).

Die 1ste krieketspan van Bethlehem Voortrekker Hoërskool is gekroon as die nuwe kampioene van die Goudveld-liga.

Hoërskool Goudveld het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Ondanks ‘n goeie begin van Goudveld se openingskolwers, word hulle uitgeboul vir 132 lopies in 38 boulbeurte. HJ Smit se boulvertoning (2/17 in 10 boulbeurte) was uitsonderlik en het daardeur die tuisspan in die middelboulbeurte onder geweldige druk geplaas. Henro Claasen (3/22 in 6 boulbeurte) met sy aggressiewe boulwerk het vir HJ goed ondersteun. Die kaptein, Dian Labuschagne, het sy troepe op ‘n besonderse manier gelei en was deurentyd in beheer van die verrigtinge op die veld.

BVHS se openingskolwers het ‘n goeie fondasie gelê vir die res van die kolwers om die teiken suksesvol te jaag. Lorenzo Spyer (38) en Dian (21) se vennootskap van 83 om die eerste paaltjie het Voortrekker in ‘n goeie wenposisie geplaas. Goudveld het egter sterk terugbaklei en 3 vinnige paaltjies geneem aan die einde, maar dit was nie genoeg om te verhoed dat Voortrekker hulle telling verbysteek in die 34ste boulbeurt met 5 paaltjies staande.

Dit is die eerste keer sedert die 2013/2014-seisoen dat Voortrekker die Goudveld-liga wen.

Trekkertrots!!