Bloues het verlede jaar op ‘n hoë noot afgesluit in Kyknet kompetisie, Skole Kook.  Nie net was hulle die Vrystaatstreekswenners nie, hulle het ook 2de Nasionaal geëindig.  Om weer aan die kompetisie deel te neem, nadat Bloues so goed die vorige jaar gevaar het, was ‘n groot besluit, maar so ‘n wonderlike geleentheid kon nie van die hand gewys word nie.

 

Die twee spanne van Bloues moes vroeg in die jaar teen mekaar kompeteer om deur te gaan na die Semi-finaal van die Vrystaat streek.  Die Graad 12 Verbruikerstudie leerders, Corli Bergh en Hanke Swart was in een span en Karla Jonker en Zelone Joubert in die ander span.  Beide spanne moes geregte met Biltong, geborg deur Country Meat, gebruik in hulle disse.  Corli en Hanke, met hul heerlike Biltongring, is toe as Bloues se wenspan aangekondig en moes Bloues verteenwoordig in die Semi-Finaal.

 

Die eerste Semi-finaal het te Hoërskool Bultfontein plaasgevind.  Bloues moes deelneem teen die wenspanne van Hoërskool Witteberg, Hoërskool Bultfontein en Hoërskool Hentie Cilliers.  Die wenspan van een van die skole sou deurgaan na die finaal van die Vrystaat streekswenners.  Die opdrag was dat die spanne hul eie deeg moes maak en dit in ‘n soutgereg bedien waarvan vleisprodukte van Country meat ook weer gebruik moes word.  Dit was ‘n baie sterk kompetisie, maar Corli en Hanke se Biltong gevulde choux- en broskorsdeeg gereg het hulle as die wenners van die Semi-finaal laat wegstap.  Dit was ‘n groot oorwinning en het hulle net nog meer gemotiveer vir die uitdaging om in die finaal deel te neem.

‘n Pronkstuk was die opdrag vir die Vrystaat finaal.  Die spanne moes elk ‘n spogkoek bak en versier in die gegewe tyd.  Bloues het in die Finaal teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool te staan gekom en albei spanne het omtrent uitgehang om ‘n prag pronkstuk te maak.  Die tegnieke, gebak en versierings van albei spanne was foutloos en dit het die beoordeling moeilik gemaak.  Elke element is gefynkam om seker te maak dat die beste span sou wen.  Met afwagting tydens die aankondiging kon mens die spanning tussen die spanne voel, en met groot verligting is Bloues vir die tweede keer as die Vrystaatstreekswenners aangekondig.

Bloues is ongelooflik trots op Corli en Hanke.  Dit het baie voorbereiding, harde werk en deursettingsvermoë geverg om aan hierdie fantastiese kompetisie deel te neem.  Die twee meisies is voorwaar ‘n gedugte span en ons sien uit om hulle in die Nasionale uitdunne se sien waar hulle teen die wenners van Weskaap, Mpumalanga, Gauteng en Noordkaap te staan kom.  #trotsblou