Kort nadat Wayde van Niekerk, die Bloemfonteinse blits die wêreldtitel verlede week in die 400 m in Beijing (Sjina) gewen het, het sy ma en stiefpa, Odessa en Steven Swarts hulle moue opgerol en Vrydag en Saterdag as afrigters diens gedoen by die Laerskool Fichardtpark se gewilde jaarlikse atletiekkliniek. Die kliniek is by die Mangaungstadion in Bloemfontein aangebied en het meer as 250 atlete gelok.

Odessa, wat in haar jong dae self ‘n naeloper van formaat was en Steven het die jongspan wat die kliniek bygewoon het in die naelope touwys gemaak, en wie beter as twee mense wat presies weet wat hul seun, die wêreldkampioen so suksesvol maak.

Odessa is hoofafrigter by die Laerskool Eunice en is ‘n gekwalifiseerde Vlak-2 ASA- (Atletiek Suid-Afrika) afrigter. Sy het ook al diens gedoen as spanafrigter en bestuurder van Vrystaat-atletiekspanne.

Steven het ‘n ellelange atletiek CV en het ondermeer paar keer as afrigter ‘n nasionale span na die buiteland vergesel en is onlangs as Adjunkpresident van Atletiek-Vrystaat (AVS) gekies.

Een van Suid-Afrika se voorste vroue-atlete van alle tye, Elizna Naudé het diskusgooiers bygestaan. Naudé was van voor 2000 tot 2012 vir meer as ‘n dekade een van die wêreld se beste diskusgooiers.

Sy het ondermeer aan die Olimpiese-speles in Athene (2004) en Beijing (2008) deelgeneem en het ook twee wêreldkampioenskappe (2005 en 2009) ingeryg. Naudé het in 2006 een van haar hoogtepunte opgedis toe sy gekroon is as die Statebondkampioen in Melbourne, Australië.

Jan Britz (Laerskool Fichardtpark) verdien ‘n klop op die skouer vir sy en sy span se skitterende organisasie van weer eens ‘n voortreflike en leersame atletiekkliniek. Met die kaliber van afrigters wat hulle kennis kom deel het, kan dié kliniek slegs van krag-tot-krag gaan.

FOTO BO:  Odessa Swarts (links), ma van die Bloemfonteinse wêreldkampioen in die 400 m, Wayde van Niekerk, maak hier ‘n paar atlete touwys by die atletiekkliniek wat die Laerskool Fichardtpark die naweek in Bloemfontein aangebied het. Van Niekerk se stiefpa, Steven Swarts (foto regs) het nie tyd vir speletjies gehad nie en sommer die bul by die horings gepak en die atlete gewys hoe om met die naelope hulpmiddel, die valskerm te nael. Agter Steven hou een van die land se beste naelopers in die juniorafdeling, Hlapo Rantabane (HTS Louis Botha) hom fyn dop.

FOTO’S:   SAM LAUBSCHER (ACTION PHOTOS)