Witteberg se 1ste Krieketspan het daarin geslaag om BVHS se 1ste span die 2de keer in 2 weke te klop op die krieketveld. Hierdie keer was dit in ‘n 50 boulbeurt geskeduleerde Noord-Vrystaat ligawedstryd. Die wedstryd is beslis op BVHS se veld en het plaasgevind skaars ‘n week nadat die 2 kragte van die Oos-Vrystaat mekaar trotseer het in ‘n T20 kragmeting waar Witteberg met die louere weggestap het.

BVHS se kaptein Luan Kruger het die loot gewen besluit om eerste te gaan kolf. Die kolfblad was goed voorberei en het tekens van groot lopies getoon totdat Witteberg se Janco Botha gesorg het vir die eerste deurbraak. Botha en George Spershott het verseker dat die lopietempo beperk word tot minder as 4 per beurt en het tussen die twee van hulle van albei aanvangskolwers ontslae geraak. Puik vangskote in die glippe deur Janco Strydom het verseker dat BVHS na die eerste sessie tevrede moes wees met 56 vir 4.

Die 2de sessie van die oggend se spel het aan BVHS behoort en veral aan MJ Rossouw wat met ‘n goeie vennootskap om die 5de paaltjie met Cammie Roux, BVHS se totaal opgejaag het na 146, voordat Rossouw op die middebaangrens uitgevang is. Aangesien Roux baie stadig gekolf het (38 van 107 balle), het dit aan Rossouw (54 van 53 balle) die verantwoordlikheid gelos om die totaal te stel wat nodig is.  Die deurbraak het uiteindelik gekom in die 37ste beurt en dit was ook die begin van verdere probleme vir BVHS. Botha se terugkeer het net meer sukses vir Witteberg gebring en sy syfers van 5 vir 23 in 10, was uitstaande. Die res van die boulers tesame met Botha het in die laaste sessie kwaai druk toegepas op die stert en BVHS almal uitgehaal vir 199 in 48 beurte. George Spershott het ook goed vertoon en geeindig op 3 vir 33 in sy 10 beurte.

Daarna het Witteberg begin kolf en was aanvanklik vasgedruk deur goeie boulwerk van Tristan Snyman. Hoewel die verwagte lopietempo nie ‘n probleem was nie, het twee vinnige paaltjies verseker dat BVHS se totaal van 199 redelik verdedigbaar begin lyk het. Goeie kolfwerk deur onder andere George Spershott (81 van 88 balle) en Erhard Bubb (47 ban 82 balle) het egter gesorg dat die totaal heeltyd binne bereik raak. Hul vennootskap van 112 van 188 balle om die 3de paaltjie het die wind uit BVHS se seile gehaal. Minder goeie boulwerk in die 2de sessie, tesame met Spershott wat nooit misluk het daarin om ‘n swak bal na die grens te jaag nie, het veroorsaak dat BVHS se kans al hoe skraler geraak het om te wen.

Tydens die laaste sessie was die wentotaal slegs 26 lopies ver, met 16 beurte wat nog afgestuur moes word. 4 Vinnige paaltjies aan BVHS se kant, onder andere die gevaarlike Spershott, het gelei tot oplewing in die veld en skielik was daar meer druk op die lae-orde kolwers van Witteberg om die wa deur die drif te trek. Die totaal van 199 was egter net te min en te danke aan die vennootskap tussen Spershott en Bubb was dit Witteberg se dag. Quinten Mostert het gesorg vir die wenlopies in die 42ste beurt met ‘n grenshou en verseker uiteindelik vir Witteberg ‘n oorwinning van 4 paaltjies.

Baie geluk aan elke Witteberg speler vir die manier waarop jul deelgeneem het. Baie strekte ook aan BVHS met die res van jul seisoen. Dankie ook aan elke leerling, onderwyser en ouer wat moeite gedoen het om hierdie opwindende krieketwedstryd by te woon. Jul ondersteuning het baie beteken en ons opregte waardering. Witteberg speel eerskomende naweek in Welkom teen Goudveld in wat poog om nog ‘n klipharde stryd te wees.

“It is after all, a gentlemen’s game!!!”