Die graad 11 ouerkomitee en hul registerpersoneel het ‘n steakaand met wynveiling aangebied op Saterdag, 3 September.  Die fondse wat geïn is, is ter steuning van hul matriekafskeid in 2017.

Die wyne wat opgeveil was (3 liter, 1.5 liter en 750 ml) was eksklusief en eie aan die drie oud skole (Ampies/HTS de Wet Nel, Bloues/Hoërskool Kroonstad en Lanties/Hoër Landbouskool) waaruit die huidige skool saamgestel is.  Die bottels is versier met etikette van die betrokke skool se wapen voorop en agterop die skoollied en kreet.  Die drie liter-wynbottel is oorgetrek met ‘n bypassende fluweelomhulsel waarop die betrokke skoolwapen geborduur is.  Dieselfde wynbottels is ook vir die huidige Hoërskool Kroonstad opgeveil.  Die skree van die kreet deur die oudskoliere voor die betrokke skool se wyn opgeveil was, het glans en nostalgie aan die geselligheid verleen.  Die wyne is opgeveil deur Kalahari van der Westhuizen, een van die oud-Ampies.

Wynbottels (750 ml) van die onderskeie skole met die skoolwapen voorop is nou te koop teen R150 stuk.  Kontak Lynette van den Berg vir meer besonderhede (056-2125433).

Die aand is deur sowat 150 gaste bygewoon.  Die gaste is vermaak deur Dusty Dixon wat al verskeie kere in Kroonstad opgetree het.  Daar is heerlik om die tafels en braaivure gekuier.

Ons opregte dank en waardering aan die volgende borge:  Pro Cartridge, It’s Time Embroidery with a Difference, Rellings, Sewende Hemel Gastehuis, Shaun Ruddy (oud-Ampie) en Manny’s Saverite.