Ses gholfspelers van Grey Kollege is Saterdag op Gary Player se plaas net buite Colesberg ontvang met ‘n vars koppie koffie spesiaal deur Player gemaak.
Tydens Gary Player se besoek aan Grey Kollege in Augustus 2016, het hy persoonlik vir Wilco Nienaber (huidige SA junior gholfkampioen) en vyf van sy maats uitgenooi om hom te besoek.
Buiten vir Player, het die seuns ook die geleentheid gehad om saam met Dean Burmester, oud-Grey en huidige Tshwane Ope kampioen die dag te spandeer.
Player het vir almal teenwoordig op ‘n staproete tot bo-op die berg gevat om die uitsig oor die plaas te waardeer.
Dit was ‘n dag propvol pret met 81 jarige Player wat steeds topfiks is.
Player se nommer een geheim is volgens hom ‘n gesonde en gebalanseerde dieët. Nie net om ‘n goeie sportman te wees nie, maar ook vir langslewendheid.
Die seuns het die geleentheid gekry om hulle eie “smoothies” te maak.
Lego’s bou en gooi was deel van ‘n spanbou-sessie, maar met ‘n groter doel voor oë.
Volgens Player is hierdie tipe oefening uitstekend om die perifêre visie te oefen en ontwikkel.
Dit is van uiterste belang vir ‘n gholfspeler om voorwerpe en beweging buite die direkte lyn van visie (die middel van die retina) te kan sien.
Player, wat ongeveer 64 jaar reeds ‘n professionele gholfspeler is, het individueel na elke seun en selfs Burmester se tegnieke gekyk en vir hulle wenke gegee oor hoe ‘n paar klein veranderinge ‘n groot verskil kan maak.
Dit was vir elke seun ‘n reuse voorreg om deel te kon wees van hierdie wonderlike ervaring.