Die Hoërskool Riebeeckstad het Saterdag by die Vrystaat-veldwedloopkampioenskap wat in Bloemfontein beslis is gewys dat hy nie sy gelyke het as dit kom by wedlope waar in hoërskool-ouderdomsgroepe meegeding word nie.

Dié skool se atlete het in die tien wedlope waaraan hoërskoolleerlinge deelneem, nie minder as tien medaljes ingeoes en dit is iets om oor huistoe te skryf.

In die 4 km-wedloop vir seuns 14-jaar het Riebeeckstad amok gemaak en die, wat bekendstaan in sportterme, “fullhouse” medaljes verower deur goud, silwer en brons terug te neem goudvelde toe.

Lebohang Mahloane het in ‘n haastige 13:00 geseëvier met sy spanmaats, Vuyo Kamlane (13:07) en Ngconde Matwebu (13:12) kort op sy hakke in die onderskeidelike silwer en bronsmedaljeplekke.

Riebeeckstad se meisies het ook nie op hulle laat wag nie. Ntswaki Molahloe het in die 4 km vir meisies in die 15-jaar-afdeling ‘n wegholoorwinning in ‘n kookwater 15:32 gesmaak. Sy is gevolg deur Sinah Khauta (Lereko, 16:13) en toe kom nóg ‘n atleet van Riebeeckstad, Pienkie Touto en wen die bronsmedalje in 16:39.

Die einste Riebeeckstad se Amanda Khulela (17:08) het in die afdeling vir meisies 17-jaar ook eerste oor die eindstreep gehardloop om vyf sekondes voor Tshepiso Motsei (Tshireletso, 17:13) te eindig.

Dit is egter opmerklik hoeveel stadiger dié tye is as die genoemde wentyd (15:32) van Molahloe in die 15-jaar afdeling.

Riebeeckstad het silwer ingepak in die seuns 14-jaar-wedloop waar Theo Hlahane (13:56) die onderspit gedelf het teen Thabang Mathosa (Eskom, 13:38).

In die 8 km-wedloop vir juniormans het Riebeeckstad sy diepte onderstreep deur die tweede- en derdeplekke te vul. Neo Segopolo (26:07) was tweede terwyl Manuel Rampalang derde was in 26:18. Hulle het egter nie genoeg skietgoed gehad om die kampioen, Thabo Thoahlame (Eskom, 25:26) te troef nie.

Senqu Komo (Riebeeckstad, 20:31) was op sy beurt derde in die afdeling vir seuns 17-jaar (6 km).

FOTO BO:  Dit was Saterdag ‘n miernes van bedrywighede by die Vrystaat-veldwedloopkampioenskap wat op die Kovsiekampus in Bloemfontein beslis is. Meer as 1000 atlete het mekaar die stryd aangesê in hulle pogings om die podium te bereik en ook om in die Vrystaatspan ingesluit te word vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat in September in Nelspruit beslis word. Hier vat van die voorste manne mekaar aan in een van die wedlope waar hoërskoolleerlinge koppe gestamp het.