Die jaarlikse Spur-straatmylbyeenkoms wat 7 September 2015 deur die Hoër-Meisieskool Oranje op sy skoolgronde aangebied word, beloof oudergewoonte wedlope van hoogstaande gehalte op te lewer.

Die byeenkoms maak voorsiening vir jonk, (vanaf onder 11) en oud (veterane- en meestersatlete) en begin en eindig by die skool se Astro-hokkieveld hoofpaviljoen.

Buiten vir die seuns- en meisies o.11 en meesters mans- en vroue sal atlete wat die eerste drie plekke inneem in onderskeidelike ouderdomsgroepe pryse ontvang. In die genoemde seuns- en meisies (o.11) en meesters mans- en vroue wedlope, sal slegs die wenners pryse ontvang.

Daar is ook heelparty gelukstrekkingpryse op die spel.

Dink jy terug aan verlede jaar se byeenkoms, bly die puik oorwinning van Gean Viljoen (toe in laerskool Willem Postma) vars in die geheue. Die mannetjie het die seuns o.13-wedloop met die spreekwoordelike seemyl gewen in ‘n haastige 4:51.

Viljoen, wat intussen die hoërskoolbanke (Graad-8) van Grey-kollege bestyg het, neem dié jaar in sy eerste jaar deel in die o.15-wedloop en gaan sy hande vol hê met ‘n paar puik langasems van die Hoërskool Louis Botha.

Inskrywings kos slegs R5,00 per deelnemer en kan reeds vanaf 15:30 by die wegspringplek gedoen word.

Die program vir die byeenkoms is:

16:30: seuns- en meisies o.11- en 13 (laerskoolatlete), 16:45: seuns- en meisies o.15 (Graad-8 en 9), 17:00: seuns en meisies o.19 (Graad-11 en 12), 17:15: seniormans- en vroue (tot 39 jaar), 17:30: veterane- en meesters mans- en vroue, 17:45: Prysuitdeling.

Vir meer inligting bel vir Joanette Jacobs by 082 496 0916.

FOTO BO:   Gean Viljoen was verlede jaar, toe hy nog in Graad-7 in Willem Postma was, die wenner van die Hoër-meisieskool Oranje se straatmyl vir seuns o.13. Hy is tans ‘n leerder by die Hoërskool Grey-kollege (Graad-8) en sal 7 September 2015 by die einste byeenkoms in die seuns o.15-wedloop in aksie wees.