Die Hoër Meisieskool Oranje het die naweek hulle intrek in Stellenbosch geneem om die gesogte Stellenbosch meisieskool, Bloemhof in verskeie sportsoorte te takel.

Die groot vraag was of Bloemhof oor genoeg skietgoed sou beskik om Oranje se eerste-hokkiespan te troef. Let wel, albei dié skole is volgens www.saschoolsports.co.za onder die voorste tien eerste-skolehokkiespanne vir meisies in Suid-Afrika.

Daar is egter een klein verskilletjie – Oranje is nommer een en Bloemhof nommer nege.

Hierdie feit is duidelik weerspieël toe die eerstespanne mekaar die stryd in Stellenbosch aangesê het. Oranje het verspotmaklik met 6 – 2 gewen.

Inteendeel, Oranje het al die A-spanwedstryde in die onderskeidelike ouderdomsgroepe gewen. Die Bloemfonteiners se o.14(A) span het Bloemhof met 3 – 0 geklop terwyl die o.16(A) span van Oranje die Bloemhof-meisies ‘n goeie drag slae (10 – 1) gegee het.

Van die 15 hokkiewedstryde wat beslis is, het Oranje sewe gewen, vier verloor en in vier gelykoptellings afgedwing. Tel jy al die doele bymekaar het Oranje die agterkant van die doelhok 29 keer getref en Bloemhof slegs 11 keer.

In netbal het dit egter nie so voorspoedig met Oranje gegaan nie en hulle kon slegs in een van die A-spanwedstryde oorwinning smaak. Bloemhof het drie van die vier A-spanwedstryde gewen.

Oranje se o.15(A) span het die genoemde oorwinning behaal deur Bloemhof met 23 – 19 te wen. Bloemhof se o.18(A), o.17(A) en o.14(A) spanne was almal aan die wenkant met onderskeidelike tellings van 20 – 18, 26 – 15 en 19 – 16.

Wat uithouvermoë aan betref was die Bloemfonteiners die sterkste. Hulle het die veldwedloopkompetisie met 113 teenoor Bloemhof se 97-punte beklink.

Die Rosestad se meisies moes in die tennis aan die agterste speen suig en kon slegs die tweedespanoorlog wen (5 – 4). Bloemhof se eerstespan (8 – 4) en sy o.14’s (5 – 4) was aan die wenkant.

Oranje het die beste sprekers by dié tussenskole byeenkoms opgedis en het die kitaar geslaan in die junior sowel as die senior debatkompetisies.

Die Bloemfonteinse slimkoppe het ook die skaakkompetisie hulle eie gemaak.

FOTO BO: Danine Retief, een van die Hoër Meisieskool Oranje se voorslag eerstespan hokkiespelers was een van haar span se staatmakers toe hulle die naweek in Stellenbosch die Hoër Meisieskool Bloemhof met 6 – 2 verslaan het.

FOTO: Das van Deventer