Oranje o.13 tennisspanne maak skoonskip

Die laerskool Oranje moet huidiglik beskou word as die voorste onder-13 tennisskool vir meisies in die land. Hoewel daar nie amptelik ‘n laerskole tennisranglys bestaan nie, is bogenoemde stelling nie ‘n hap in die wind nie, want dié meisies draf die land kaf.

En dit sluit die vier lede van die B-span ook in.

Oranje het die naweek by die Truida Kestell-toernooi in Bethlehem oudergewoonte amok gemaak teen weer eens van die voorste skole in die land.

Blaai jy ‘n paar maande terug (Mei) in die geskiedenisboeke, merk jy dat dié einste spannetjie (A-span) van die land se voorste tennisspelende-laerskole by die gesogte Amanda Coetzer-toernooi op tuisbodem ‘n loesing gegee het wat soos ‘n sprokiesverhaal klink.

Oranje het by dié toernooi hulle teenstaanders geen kans gegun om asem te skep nie en in totaal 105 stelle ingeoes teenoor onderskeie teenstaanders se totaal van slegs 14.

In Bethlehem was Oranje se onder 13 A- en B-spanne in aksie teen 32 ander skole en die tafel was gedek vir opwindende spel.

Die A-span, wat bestaan uit Inge Greyling, Christine Kruger, Kristen Fichardt en Bianca Terblanche het in hulle opmars na die eindstryd het begin toe hulle eers van die laerskool Jan Cilliers ontslaan geraak het (48-23) en daarna Tygerpoort met 48-8 kafgedraf het.

Toe kom Jordania aan die beurt en val vas teen Oranje A (48-4) terwyl die laerskool J.J. van der Merwe ook nie in die uitspeelwedstryde ‘n indruk kon maak teen die Bloemfonteiners nie. Hulle moes huiswaarts keer met ‘n verloortelling van (4 – 48).

In die halfeindrondte het Oranje se A-span ook op ‘n drafstap geseëvier toe hulle De Aar met 4 – 0 geklop het.

Met Oranje-A wat reeds plek geboek het in die eindstryd, het dit geblyk of die B-span se dametjies spreekwoordelik besluit het, “As die res van die land julle nie ‘n ‘run for your money’ wil gee nie, sal ons dit doen”. En dit is presies wat gebeur het.

Oranje se B-span, wat bestaan het uit Miné Janse van Rensburg, Liné Greyling, Simoné Terblanche en Elodie Visser het in die uitdunrondtes ook al hulle wedstryde gewen deur vir Newton (45 – 30), Curro Hazeldean (40 – 36), Fountainbleau (48 – 2) en Senekal (48 – 9) uit te skakel vir ‘n plek in die halfeindrondte.

Oranje (B) het in die halfeindrondte teen nog ‘n Bloemfontein-skool, Willem Postma kragte gemeet en met 4 – 2 deurgedring om hulle A-span in die eindrondte te ontmoet.

Soos verwag is, het Oranje (A) uiteindelik met 4 – 0 in die eindstryd teen Oranje (B) met die louere weggestap.

■ Die uitspeelrondtes telling hierbo aangedui is volgens stelle ingepalm weergegee, terwyl die halfeind-, en eindstrydtellings volgens wedstryde wat gewen is aangedui is.

 

BYSKRIF: Die Laer-meisieskool Oranje het die naweek gewys dat hulle onkeerbaar is as dit by tennis kom. En, dit sluit die beste tennisspelende-laerskole in die land in. Oranje se A en B-span het by die Truida Kestell-uitnodigingstoernooi só goed vertoon dat hulle A-span uiteindelik in die eindrondte teen hulle B-span moes koppe stamp om die kroon. Die A-span het 4 – 0 gewen.

Op die foto is die twee spanne saam en van voor links is Simone Terblanche (B-span), Miné J van Rensburg (B-span), Inge Greyling (A-span), Kristen Fichardt (A-span) en Liné Greyling (B-Span)

Agter van links is Bianca Terblanche (A-span), Elodie Visser (B-Span) en Christine Kruger (A-span).