Wat ‘n fees om ‘n Uppie te wees – al vir ‘n 120 jaar lank!!  Hierdie feesvieringe het Sondagoggend op ‘n hoë noot begin met ‘n heerlike oggendtee in die geselskap van Lindie Strydom van Hoop, Geloof en Liefde faam.

Die saal was prentjiemooi en die amper 350 gaste het die oggend terdeë geniet.  Saam met lemoenboompies op die tafels en heerlike lemoenkoeke was die gaste deeglik daarvan bewus dat Hoërskool Upington nog deur al die jare uitvoer “lemoene” aan die gemeenskap gelewer het en nogsteeds daarmee sal voortgaan.

Lindie se praatjie het die gaste geroer en sy het die skool se personeel en hoof geloof vir die werk wat hul doen in die gemeenskap.  Sy het genoem dat die skool besonders moet wees as jy in ag neem dat HU al soveel storms van die lewe deurstaan het en nogsteeds geanker staan in die gemeenskap. Sy het haar boodskap toegelig met verskeie staaltjies waarvan die Drie Varkies een is.  HU sou nêrens kom as ons nie as span saamgewerk het soos die varkies teen die einde nie.  Soos Hansie vir hom en Grietjie klippies gelos het om op die regte pad te bly, so los die Here vir ons rigtingwysers uit die Woord om die kinders op die regte pad te lei en te hou.

Die nuwe Matrieknooiens het die vorige jare se finaliste met mooi oranje rose verwelkom en almal was dit eens dat dit ‘n pragtige oggend was.

Lindie is weg maar nie voor sy die skool geseën het met God se liefde en genade nie.