Nege Jim Fouché trommies in VS-span

Na ‘n hoogs kompeterende Suid-Afrikaanse skole-trompoppiekampioenskap wat vroeër vanjaar in Bloemfontein beslis is, het die Hoërskool Jim Fouché (JF) sy plek onder die 14 elite-spanne in Suid-Afrika behou.

Die jongspan (laerskool) van JF het ook die onderskeiding behaal om in 2016 in die elite-groep mee te ding.

Die trommies van JF-hoër het by die genoemde Suid-Afrikaanse kampioenskap in die elite-afdeling se kampioen-van-kampioene afdeling ‘n goeie tiende plek behaal, maar maklik het dit nie gegaan nie en asems is deurgaans opgehou. Die verligting was groot toe die besef deurgedring het dat JF nie gerelegeer is nie en vir die soveelste jaar die voorste Vrystaatse trompoppie-hoërskool by die nasionale kampioenskap was.

Intussen het JF se trommies onlangs die onderskeiding behaal deur nie minder nie as nege lede vir die Vrystaat-senior- (hoërskole) span op te lewer. In hierdie kompetisie word ‘n Vrystaatspan van die beste trommies uit deelnemende Vrystaatskole gekies om die provinsie te verteenwoordig en nie soos by die bogenoemde kampioenskap waar spesifieke skole deurdring na die nasionale kampioenskap nie.

Die nege JF trommies wat gekies is, Alecia Marais, Delarise Bakkes, Annové van Deventer, Roshelle Rossouw, Eyesha Dreyer, Marli du Toit, Marezé Kaalsen, Charlé Heyns en Clarise Eke sal die provinsie aanstaande jaar by die nasionale kampioenskap in Johannesburg verteenwoordig.

 

BYSKRIF: Die trompoppies van die Hoërskool Jim Fouché is hier oppad om hulle slag te wys in die vlaggroep-dissipline by die nasionale kampioenskap wat vroeër vanjaar in Bloemfontein beslis is. Deur in dié afdeling agtste uit die 14 elite-afdeling skole te eindig, het bygedra dat Jim Fouché aanstaande jaar steeds in die elite-afdeling kan meeding. Hulle het dit nou met die onderskeiding opgevolg deur nege lede van die Vrsytaatspan op te lewer.