Morgan Pelser (12, ‘n leerling by Willem Postma Primêre skool) is ‘n doodgewone tiener, maar met een groot verskil.  Sy het reeds haar eerste besigheid op 11 jaar begin.  Morgan het twee vriende wat in Potchefstroom woon en wat ook spookasem aan verskeie winkels in die area verskaf. Sy het ‘n besigheidsplan by hulle oorgekoop en woeker sedertdien hard om haar besigheid te groei en te vestig.

“Dit is moeilik vir ‘n kind om besigheid met grootmense te doen,” vertel sy, “maar dis een van die grootste lesse wat jy baie vroeg al leer – almal is maar mense en die kwaai ouens is partykeer die beste kliënte.”  Morgan lewer spookasem vir ‘n paar deli’s, sjefs en by kinderpartytjies, maar sy het ook twee permanente stalletjies – een by die Boeremark en die ander is ‘n nuwe inisiatief van Urth Garden Centre – Biz Kidz Entrepreneursmark vir kinders.

Sy werk regtig hard aan haar besigheid en maak elke bakkie spookasem self.  “My ma help party aande, en partykeer my pa, en my klein boetie is die quality control manager!” vertel sy.  Hy is blykbaar baie noukeurig om produk te bekyk vir kwaliteit.

Hoeveel geld kan jy maak met so ‘n mikro besigheid?  “Ek het eers niks geld vir myself gevat nie en het my besigheid gegroei op ‘n streng plan wat ek uitgewerk het.” Maar nou maak sy genoeg geld om al haar eie sporttoere te betaal, klere te koop en lekker spaargeld weg te sit.

“Ek is bly ek het op 11 reeds begin met ‘n besigheid.  ‘n Mens moet baie leer voordat jy ‘n sukses kan maak.  Ek bekommer nog elke dag of ek by my plan sal bly vir die maand, maar dis baie lekker om so onafhanklik te wees,” sê sy.

Besoek gerus Morgan se stalletjie by die Boeremark of skryf vir haar by morganpelser1@gmail.com.

MORGAN SPOOKASEMFoto: Morgan met haar Vrouekeur-bestelling vir spookasem vir ‘n fliek premier in Bloemfontein. Foto:  Kobus Robbertze