Wanneer ’n juffrou haar skoolloopbaan, hoofmeisieskap, breek van atletiekrekords, pa as onderhoof gehad het, en dan by dieselfde skool vir 35 jaar lank skoolhou moet dit beslis in die geskiedenisboeke aangeteken word.
Marina (Steenkamp) Gillmer (57) het saam met haar ouers en tweelingbroer op die vroeë ouderdom van drie jaar in Welkom gevestig.
Haar pa, Douw Steenkamp, was vir bykans tien jaar die onderhoof van die WelkomVolkskool toe hy skielik siek geword het.
Marina en haar broer Kobus het albei hul laerskoolloopbaan aan die Welkom-Volkskool voltooi en sy was ook hoofmeisie.
Sy was ’n uitstekende atleet en het talle altletiekrekords in haar laerskoolloopbaan opgestel. Dié prestasies word steeds in die skool se sportkamer uitgestal.
Sy het haar hoërskoolloopbaan aan Welkom-Gimnasium voltooi, waar sy ook hoofmeisie was.
Ná skool het sy in Bloemfontein onderwys studeer en in haar eerste jaar is haar ma, Miempie, aan kanker oorlede.
Sy moes noodgedwonge terugkom om haar siek pa te versorg.
Sy en haar pa is terug na Bloemfontein waar sy haar studies voltooi het terwyl sy na hom moes omsien.
Nadat sy haar studies voltooi het, is sy verskeie onderwysposte in Welkom aangebied en het toe besluit om die pos by die Welkom-Volkskool te aanvaar. Intussen het sy nie ophou studeer nie. Sy spog met ’n paar diplomas en grade agter haar naam.
Dit is vanjaar 35 jaar later en sy is steeds nie een dag spyt oor haar keuse nie.
“Kinders is my passie en dis vir my absoluut ’n voorreg om met kinders te werk en om te weet dit is my plig as opvoeder om in elke leerling se lewe ’n indruk te maak”, sê Marina.
Dit is vir haar wonderlik om te sien hoe kinders ontwikkel en sy hoop dat sy ’n verskil gemaak het in elke leerling wat sy kon opvoed. Sy was en is steeds baie aktief betrokke by die meeste van die skool se buitemuurse aktiwiteite.
Marina is vereer met ’n reeks eerbewyse en erkennings vir haar bydrae in die afgelope 35 jaar in onderwys.
Buiten haar bedrywige skoolloopbaan was sy ook die voorsitter van die VLU vir ses jaar en is sy gaande oor fietsry en staptoere.
Sy is baie lewenslustig en is gaande oor avontuur.
Marina vertel met oorgawe hoe sy en die kinders vroeër jare in die Drakensberge en op plase gaan kamp het.
Dit is haar motto in die lewe om soveel moontlik herinneringe te maak om eendag op haar stoep te sit en die goeie en lekker lewe wat sy kon hê, te onthou.
Op die ouderdom van 56 jaar is Marina met die liefde van haar lewe, dr. James Gillmer, getroud. Die twee was vir 16 jaar vriende en is in Desember 2016 getroud.
Die twee woon steeds in die huis waarin Marina grootgeword het. Met reeds ’n vol lewe en baie herinneringe is Marina nog nie gereed vir aftree nie.
“Ek wil nog ’n paar kinders leer en baie spesiale herinneringe maak; en die lewe saam met my man ten volle geniet, ” sê Marina.

Bron is News24.