Grade-dag  by  JF

“Wipe Out” is ‘n naam wat dadelik ‘n prentjie by ons almal vorm van die Amerikaanse televisie program waar mense hard val, nat word en hul name weggooi vir die pret daarvan.  JF het op 13 Februarie 2015 hul eie “wipe out” dag gehad en hierdie prentjie vervolmaak…

Die dag het begin met optogte, waar die matrieks hul outoriteit oor die ander grade gewys het deur  ‘n skouspelagtige aankoms met ‘n groot verskeidenheid spoggerige motors. Dit het geëindig  met hul eie “foam” masjien en “foam party” op die rugbyveld.

Daarna het die aktiwiteite  begin met die matriekseuns en -dogters wat teen die res rugby gespeel het. Die grootste pret van die dag was egter die rondtebaan. Elke graad het ‘n punt beman met aktiwiteite soos ‘n waterwurm, ‘n gladiator baan en selfs ‘n “dunking”-masjien. Die laasgenoemde het gesorg dat tot die skoolhoof ‘n besoek in die water aflê.  Die dag is afgesluit met ‘n kaskar-resies en het net weereens bevestig dat JF meer as net ‘n skool is, dis ‘n leefwyse….

Hier by Jim Fouché werk ons definitief hard, maar ons weet ook hoe om net so hard te speel!