Dit gebeur nie elke dag nie – twee susters van een skool wat op een dag ‘n provinsiale skoleveldwedlooptitel wen. Dit is presies wat die twee Louw susters van die Hoërskool Sasolburg Saterdag by die Vrystaat-skoleveldwedloopkampioenskap in Bloemfontein vermag het.

Dit herinner mens aan die tyd toe die Kalmer (René en Christine) susters net na die jaar 2000 die wêreld aan die brand gehardloop het vir hulle destydse skool, die Hoërskool Randburg.

Al verskil is dat in die Kalmer-geval die ouer suster (René) die beste atleet was en in hierdie jong stadium van die Louw-sussies se loopbane blyk die jonger suster, Nicole effens beter af te wees as ousus, Michaela.

Die kleingeboude Nicole, het Saterdag (sover vasgestel kon word) die vinnigste tyd van alle vroue in die Vrystaat oor die 4km-afstand by die Kovsies se veldwedloopbaan gehardloop. En sy ding nou eers mee in die 14-jaar-ouderdomgroep.

Sy het Saterdag die 4 km-wedloop vir meisies 14 jaar loshande gewen en het die tweede atleet, Chandré Erasmus (Jim Fouché, 15:44) maklik getroef.

Louw is vroeër vanjaar gekroon as die Suid-Afrikaanse sub-jeugkampioen in die 3000 m. Haar wentyd was ‘n goeie 9:52,42.

Michaela het Saterdag die afdeling vir meisies 17 jaar (4 km) self gerieflik gewen. Haar tyd van 14:58 is spreekwoordelik ligjare vinniger as Puleng Matlosa (Lereko, 16:05) se silwermedaljetyd. .

Nope Moleyane (Louis Botha) die 6 km-wedloop (17 jaar) gelyk of hy draf en steeds in ‘n skitterende 18:36 gewen. Sy kanse blyk goed te wees om die Suid-Afrikaanse titel in dié ouderdomsgroep te wen. Hy die tweede atleet, Pule Sibeko (Fezile Dabi, 19:05) met bykans 30-sekondes agterweë gelaat.

Nog ‘n langasem van Louis Botha, Joseph Mokoteli het in die afdeling vir seuns 16-jaar (6 km) speel-speel goud ingepalm in 19:01. Hy het na die wedloop nog so vars soos ‘n lelie gelyk en het Pakiso Mthembu (Fezile Dabi, 19:02) oor die laaste 100 m met die grootste gemak uitgestof.

FOTO BO: Die ouer suster van die twee haastige langasems van die Hoërskool Sasolburg, Micaela Louw (17-jaar-afdeling) is hier op pad na ‘n maklike oorwinning by die Vrystaat-skoleveldwedloopkampioenskap wat Saterdag op die Kovsiekampus in Bloemfontein beslis is. Louw se jonger suster het die beste vertoning van die dag opgedis toe sy die wedloop vir meisies 14-jaar loshande gewen het.