Hoërskool Grey-kollege ROCK met meeste in Springbok-Wêreldbekergroep

Die Hoërskool Grey-kollege het die meeste leerlinge wat hulle hoërskoolloopbane by dié spogskool voltooi het in die Springbok-Wêreldbekergroep opgelewer, en dis nou Grey-kollege in Bloemfontein en nié Grey in Port Elizabeth nie. Laasgenoemde het slegs een, Siya Kolisi (flank).

Die rugby-wêreldbeker vind 18 September tot 7 Oktober in Engeland plaas.

Grey-kollege het nie minder nie as vyf Springbokke in die wêreldbekergroep en interresant is dat vier van dié vyf genoemdes in die voorry sak.

Slegs Ruan Pienaar (skrumskakel) is ‘n oud-Greyleerling wat vir die agterlyn gekies is.

Die ander vier, Jannie du Plessis (stut), Coenie Oosthuizen (stut), Bismarck du Plessis (haker) en Adriaan Strauss (haker) is almal vir diens in die heel voorste linie ingesluit.

Dan spog nog ‘n Bloemfonteinse skool met ‘n oudskolier in die wêreldbekergroep – Morné Steyn wat sy puik rugby en veral skopvernuf reeds op hoërskool by die Hoërskool Sand du Plessis in die Rosestad tentoongestel het.

Slegs twee ander hoërskole, Paarl Gimnasium en Paul Roos Gimnasium (Stellenbosch) spog met meer as een voormalige matrikulant wat op pad is Engeland toe vir die wêreldbeker.

Paarl Gimnasium, met Springbokkaptein en senter Jean de Villiers, Schalk Burger (flank) en Handré Pollard het drie in dié groep.

Schalk Brits (haker) en die vlugvoetige Willie le Roux het albei hulle matriekjaar onder die vaandel van Paul Roos voltooi.

 

Die volledige Springbok-Wêreldbekergroep met die skool waar hulle gematrikuleer het, is:

Voorspelers:

Willem Alberts (Monument, Krugersdorp), Schalk Burger (Paarl Gimnasium), Schalk Brits (Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch), Lood de Jager (Hugenote, Springs), Bismarck du Plessis (Grey-kollege, Bfn), Jannie du Plessis (Grey-kollege, Bfn), Pieter-Steph du Toit (Swartland, Malmesbury), Eben Etzebeth (Tygerberg, Kaapstad), Siya Kolisi (Grey, Port Elizabeth), Francois Louw (Bishops, Kaapstad), Frans Malherbe (Paarl Boys High), Victor Matfield (Pietersburg), Tendai Mtawarira (Peterhouse, Marondera, Zimbabwe), Trevor Nyakane (Ben Vorster, Tzaneen), Coenie Oosthuizen (Grey-kollege, Bfn), Adriaan Strauss (Grey-kollege, Bfn), Duane Vermeulen (Hoërskool Nelspruit).

Agterspelers:

Damien de Allende (Milnerton, Kaapstad), Jean de Villiers (Kaptein, Paarl Gimnasium), Fourie du Preez (Afrikaans Hoërseunsskool, Pretoria), Bryan Habana (KES – King Edward School, Johannesburg), Jesse Kriel (Maritzburg College, Pietermaritzburg), Zane Kirchner (PW Botha, George), Patrick Lambie (Michaelhouse, KZN Midlands), Willie le Roux (Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch), Lwazi Mvovo (Maria Louw, Queenstown), Rudy Paige (Bastion, Oudtshoorn), Ruan Pienaar (Grey-kollege, Bfn), JP Pietersen (Generaal Hertzog, Witbank), Handré Pollard (Paarl Gimnasium), Morné Steyn (Sand du Plessis, Bloemfontein).