Ryk Neethling speel waterpolo vir oud-Grey-leerlinge

Wanneer die Hoërskool Grey-kollege sy verjaardag (13 Oktober) vier, word dit met oorgawe gedoen en hierdie jaar was spesiaal, want die skool het sy 160 ste jaar herdenk.

Verskeie van die skool se sport-eerstespanne ding jaarliks mee teen oudleerlinge en daar word geen gunsies bewys nie. Hulle speel om te wen en hierdie jaar was geen uitsondering nie.

Die oud-Grey-leerlinge was meer aan die wenkant as die huidige leerlinge. Hulle het in die hokkie maklik koning gekraai in die eestespanwedstryd toe die ou-manne die huidige leerlinge ‘n goeie dra slae (10 – 0) gegee het. In die wedstryd vir tweedespanne het die huidige leerlinge effe meer hond-haaraf gemaak en het met slegs een doel die onderspit gedelf. Die oud-Greys het 3 – 2 gewen.

In die muurbal (21 -18), tennis (8 – 6) en sokker (5 – 0) het die oud-Grey-leerlinge ook korte mette gemaak van die jonger garde.

Die huidige Grey-manne het slegs in die bergfietswedren en skaak (5 – 2) oorwinning gesmaak.

Die krieketwedstryd is gespeel volgens, wat in krieketterme bekendstaan as die “declaration cricket” formaat. Die oudleerlinge het eerste gekolf en verklaar op ‘n puik 240/4. Hanco Olivier se 100 (nie uit nie) was die kolfbeurt wat uitgestaan het.

Die huidige leerlinge antwoord toe met 179/9 en die wedstryd eindig onbeslis. Lees jy egter tussen die lyne deur, is dit duidelik dat die oud-leelringe in beheer was.

Daar was groot belangstelling in die waterpolowedstryd tussen oud en jonk, want die voormalige Olimpiese-spele (2004, Athene) goue medaljewenner en een van die bekendste sportmanne wat Suid-Afrika nog opgelewer het, Ryk Neethling was in die oud-leerlinge span.

Neethling en sy makkers het na ‘n taai stryd uiteindelik die septer geswaai om met 8 – 5 te seëvier.

 

Foto: Die oud-Grey-leerlinge se waterpolospan het by die Hoërskool Grey-kollege se verjaardagvieringe met die huidige eerstespan koppe gestamp en na ‘n rillerstryd het die ou-manne oorwinning gesmaak. Die Olimpiese-spele goue medaljewenner in die 4 x 100 m-aflos in 2004 (Athene), Ryk Neethling staan hier saam met die twee spanne na die wedstryd. Hy was in aksie vir die oud-Grey-span.