Op Saterdag, 13 Februarie, het Hoërskool Fichardtpark hulle splinternuwe Omni-sentrum ingewy.  Die skool is voorwaar trots op dié nuwe gebou.  Hierdie sentrum is `n nuwe bate waaroor daar al lank gedroom is.  Die naam van die sentrum is spesifiek gekies omdat dit veeldoelig moet wees.

Die dag se gebeure is deur ouers en leerders van die skool bygewoon.  Die leerders het aan verskeie sportsoorte op die dag deelgeneem – onder andere netbal, rugby en hokkie terwyl die geure van pannekoek en koffie die lug gevul het.  Die sentrum is deur die skoolhoof, mnr Barker, die beheerliggaamvoorsitter, mnr Retief, en die projekbestuurder, mnr van Rooyen,  ingehuldig (foto bo)

Die projek is moontlik gemaak deur verskeie borge wat `n bydrae gelewer het.  Fichardtpark spreek hul opregte waardering uit aan alle borge betrokke by die projek.  In samewerking met die borge het die skoolgemeenskap ook verlede  jaar `n kaskar-wedren geloots om fondse vir die bou van die projek in te win.  Ons bedank ook al die ouers en leerders van Fichardtpark wat `n bydrae gelewer het om ons droom te bewaarheid – Mag ons nuwe Omni-sentrum vir baie vreugde in die toekoms sorg!

FICHIES NUWE OMNI SENTRUM