Bloemfonteinse skole het Saterdag goed vertoon by die jaarlikse Grey-kollege en Oranje se Clover-uitnodigingsatletiekbyeenkoms wat in die Rosestad vir hoërskole aangebied is.

Dit was die 17de agtereenvolgende Clover-byeenkoms.

Dié byeenkoms word allerweë beskou as een van die beste skole-uitnodigingsbyeenkomste in Suid-Afrika. Dit kan nie anders nie, want van die land se beste atletiekskole stamp jaarliks koppe by dié prestigebyeenkoms.

Daar is 109 nommers in die seuns en meisies 14-, 15-, 16- en 17-jaar ouderdomsgroepe aangebied en atlete van skole van die Rosestad het 33 (30%) hiervan beklink.

Die seuns van Bloemfontein het 18 nommers hulle eie gemaak terwyl die Bloem-skonergeslag 15 eersteplekke losgehardloop- gooi- en spring het.

Gebruik jy slegs die Clover-byeenkomsrekords as maatstaf (en dit is nié maklik om hier ‘n rekord te verbeter nie), het die gasheer, Grey se Herman Agenbach die beste onder Bloemfonteinse skoliere vertoon.

Agenbach het in die afdeling vir seuns 15-jaar in die diskusgooi en hamergooi nie slegs byeenkomsrekords verbeter nie, hy het in albei nommers deur die magiese grense van onderskeidelik 60- en 50 meter gebreek.

In Agenbach se voorkeurnommer (diskusgooi) het hy sy skyf ‘n reuse 60,42 meter deur die lug geswiep. Wat hierdie gooi nóg meer aansien verleen is dat dit hom die bronsmedalje in die sak sou gejaag het by vroeër vanjaar se die Suid-Afrikaanse skolekampioenskap. Agenbach se verbetering is opmerklik. Hy was by die einste Suid-Afrikaanse kampioenskap slegs vierde met 55,38 meter – meer as vyf meter kort van sy Clover-gooi.

Agenbach neem aan die hamergooi vir die pret deel en het Saterdag op die koop toe die ysterbal op 50,09 laat grondvat – byeenkomsrekord nommer 2.

Drie oorwinnings en een hiervan ‘n Clover-rekord, én die genoemde rekord is beter as die Suid-Afrikaanse skolerekord…

Dit is in kort die suksesverhaal van die kranige veldatleet van die Hoërskool Jim Fouché, Tharina van der Walt. Jy wen nie maklik drie nommers by hierdie topklas-byeenkoms nie, maar Van der Walt het in die afdeling vir meisies 15-jaar die hamergooi-, diskusgooi- en gewigstootnommers gewen.

Van der Walt wat as beste juniormeisies veldatleet van die byeenkoms aangewys is, se hamergooivertoning is iets om oor opgewonde te raak. Sy het met ‘n afstand van 53,48 meter gewen en dit is drie sentimeter verder as die Suid-Afrikaanse skolerekord wat Shaylene de Jager (Ooskaap) vroeër vanjaar by die nasionale skolekampioenskap geslinger het. Van der Walt was by die laasgenoemde byeenkoms tweede met 49,29 m.

In die diskusgooi het Van der Walt ook nie op haar laat wag nie en ‘n wenafstand van 40,43 meter losgegooi – slegs 2,92 m kort van haar eie Suid-Afrikaanse rekord (43,35 m).

Van der Walt het haar driekuns voltooi met nóg ‘n skiiterende poging in die gewigstootnommer wat sy met 14,57 meter gewen het.  Christiaan Duvenhage (Sentraal) was die enigste ander Bloemfonteiner wat ‘n Clover-byeenkomsrekord kon verbeter. Hy het die paalspring vir seuns 14-jaar gewen toe hy met ‘n hoogte van 3,50 meter oor die dwarslat is.

■ Nie minder nie as ses atlete wat voorheen by die Clover-byeenkoms in aksie was, sommige so lank gelede as 15 jaar (Johan Cronjé), het ‘n paar weke gelede almal vir Suid-Afrika aangetree by die wêreld-senioratletiekkampioenskappe in Beijing.

Hulle is, Wayde van Niekerk, wat die wêreldtitel in die 400 m gewen het, L.J van Zyl (400 m-hekkies), Rynhardt van Rensburg (800 m), Johan Cronjé (1500 m), Dumisane Hlaselo (1500 m) en Justine Palframan (400 m-vroue).

Al ses die genoemde wêreldkampionskapatlete het steeds ten minste een Clover-byeenkomsrekord agter sy/haar naam.

FOTO BO: Tharina van der Walt (JF) het Saterdag by die Clover-uitnodigingsatletiekbyeenkoms in Bloemfontein in die hamergooi vir meisies in die 15-jaar afdeling ‘n afstand vermag wat verder is as die Suid-Afrikaanse skolerekord.

FOTO: Action Photos